Hoërskool Volksrust vaar uitstekend teen Highveld Park
Hoërskool Volksrust vaar uitstekend teen Highveld Park.Op 16 Augustus 2022 het VHS hul opponent, Highveld Park High School, die stryd aangesê in hul derde krieketligawedstryd van die seisoen (gespeel te Secunda). Die span van Secunda het die loot gewen en VHS ingestuur om te kolf. Volksrust kon daarin slaag om in hul toegelate 20 beurte 239 lopies aan te teken vir die verlies van slegs twee paaltjies. CJ du Plessis en Christiaan Coetzee kon onderskeidelik 74 en 51 lopies aanteken tydens hul kolfbeurte. Dit was egter die kaptein, Ashwin Arendse, met sy onoorwonne 77 lopies wat HVP ‘n kolfles geleer het.
In hul kolfbeurt het Highveld Park egter die wind van voor gekry en kon slegs 30 lopies aanteken weens uitnemende veldwerk asook briljante boulwerk deur die kaptein wat vyf paaltjies geneem het en slegs ses lopies afgestaan het. Die ander vyf paaltjies is ingepalm deur CJ du Plessis (3) en Zanthus van der Merwe (2). Baie geluk aan die VHS-span met hul pragtige vertoning en vir hul goeie sportmanskap en beleefdheid ten tye van die kragmeting. Hoërskool Volksrust is voorwaar trots op hierdie groep seuns!

Krieket Highveld Park